Wat in Namibië inspireer my?

Wat in Namibië inspireer my?

‘n Namibiër vir die afgelope 47 jaar… Hier is ek stewig geanker in my land – Namibië.  Hier het my siel kom wortelskiet….  Ek droom in Afrikaans – en daarom skryf ek graag in Afrikaans.

Vandat ek die advertensie van die kompetisie gesien het, was my gedagtes op loop…  Fantasties!, was my heel eerste gedagte.  Ek wil deelneem – dan skryf ek oor die natuur of oor ‘n dierbare vriendin Theresia Samaria wat soveel hoogtes bereik het en ‘n fantasiese ambasadeur vir Namibië is. Ek het die voorreg gehad om saam Theresia te werk in Sanlam Walvisbaai.  By die  Munisipaliteit van Walvisbaai het sy die amp beklee as Burgermeester – die heel eerste vrou wat dan ook daardie prestasie bereik het. As burgemeester van Walvisbaai het sy is ‘n voorbeeld gestel van die potensiële impak van vroue in plaaslike regering.  Samaria is later aangestel as Namibië se ambassadeur in Botswana.  Sy was die eerste persoon in Namibië wat aangestel is as ‘n ambassadeur vanuit plaaslike regering. Sy het die beginsel toegepas om altyd haar beste te gee – nooit vir eie gewin nie, maar in die beste belang van die mense om haar.  Haar sterk geloof en oortuiging dat vroue gelyk is aan mans, asook etiek dat mens hard moet werk om te iets te bereik, het haar laat uitstaan. Voorwaar ‘n inspirasie vir Namibië se vroue.

Die natuurskoon van Namibië is nog ‘n aspek van ons pragtige land waaroor ek liries raak.  Jy gaan baie ver soek om iemand teë te kom wat verklaar hulle hou nié van Namibië nie.  Namibië is ’n wonderlike land!  Met die wyd uitgestrekte vlaktes van Namibië is dit asof die land weet hoe uiters noodsaaklik jy rus en vrede nodig het…  Jy kan amper sê dat die land jou aanmoedig om van die gejaagdheid van die lewe te vergeet.

Wanneer jy jou Namibiese ekspedisie begin by die Visriviercanyon kan jy nie anders as om te stop en asem te skep nie.  Twee aspekte sal jou dadelik opval as jy die Visriviercanyon aanskou vir die eerste keer.  Eerstens sal jy nie kan glo hoe groot die omvang van die plek is nie.  Die een oomblik ry jy nog op ‘n baie plat stuk aarde en die volgende oomblik verskyn die massiewe kraak  – kompleet of die aarde oopskeur.  Dit is dan wanneer jy net kan asemhaal en besef hoe klein die mens in werklikheid is.  Die tweede ding wat jou opval is die STILTE! Hoe verwoord mens stilte?  ‘n Weergalose beskrywing van die natuur, die kloof van stilte waar jy vry kan asemhaal…

Vat jy die pad na Aus sal jy, as jy gelukkig is, Garub se wilde perde sien en natuurlik Namibië se eie “spookdorp”: Kolmanskop.  Die wilde perde gryp ‘n ieder en elk se verbeelding aan, juis om die oorsprong van die perde nog altyd ‘n misterieuse raaisel is.  Ondanks die plat aarde met amper niks om van te leef, floreer die perde in hierdie barre, droë streek van Namibië.

Kolmanskop – hier is tussen 1908 en 1914 bykans 5 miljoen karaat – dit is amper 2,5 ton! – diamante uitgehaal.   Die hele dorpie met sy eie tremstelsel, die ysfabriek, onthaalsaal, kegelbalbaan  en hospitaal is binne ses maande gebou met bousand wat van Duitsland af ingevoer is.  Dit is dan ook in hierdie einste hospitaal waar die Suidelike Halfrond se heel eerste X-straalmasjien in werking geneem is – om seker te maak dat die werkers nie die blink klippies ingesluk het nie.    Die verskriklike weelderige dorpie kan jou kop laat duisel,  maar die dorpie se bestaan was van korte duur. Skaars 60 jaar later is daar groter diamante in die Oranjerivier gevind en al die delwers het sak en pak weggeloop en die dorpie het leeggeloop.

Bietjie verder op in die Suide van Namibië vind jy iets wat jy nooit gedink het jy sal kry : ‘n regte egte Duitse Kasteel : Duwisib kasteel gebou deur die Duitse militaris kapt. Hans Heinrich von Wolf.  Die von Wolf egpaar het hier in die Suide hulle woning gemaak.  Hy is egter dood op die slagveld.  Sy vrou het toe nie weer teruggekeer na hulle kasteel. Die Namibiëse regering het die kasteel oorgeneem en ‘n museum tot stand gebring.

Ons volgende stop is Sossusvlei. Hier sien jy die oudste woestyn in die wêreld, een van die heel droogste plekke op aarde.  Die wonderwêreld van sand staan bekend as Sossusvlei en is sekerlik een van Namibië se mees gewildste toeriste bestemmings. Die rooi sandduine wat eindeloos voor jou uitstrek.    Nog ‘n betowering in die geweste is: die geheimsinnige feetjiesirkels. Dit is groot sanderige sirkels waarin niks groei nie en as jy vanuit die lug hierna kyk is dit ‘n pragtige beeld.

Hierdie “reis” deur die Suide van Namibië is net die punt van die ysberg, hoe verder jy gaan, hoe meer verlief raak jy op hierdie pragtige land van ons. Daar is niks so mooi soos die  ongerepte landskappe nie.  Die onbeskryflike gevoel van stilte en vlaktes, prikkel voorwaar ‘n mens se sintuie en skop nes in jou diepste wese.

Nog ‘n gebied wat regtig aan jou kom vasgryp – Die Epupawaterval in die Noorde van Namibië.

Hierdie grote waterwonder is in die magtige Kunenerivier wat die Noordelike grens met Angola vorm.  Dit is baie ver om te ry en in die reëntyd is die pad baie sleg, maar die oomblik wat jy aangesig tot aangesig staan met die waterval besef jy weereens die grootheid van die natuur.

Die spreekwoord praat van die land van melk en heuning ,  maar in die geval is Namibië die land van biltong en bier.

Ek sluit af met die volgende: “ You can leave NAMIBIA, but it will never leave YOU!!!”

Marlene Erasmus

Please follow and like us: